Google Maps/Google Earth se Bykomende Diensbepalings

Laas bygewerk: Julie 2022

Om Google Maps/Google Earth te gebruik, moet jy die volgende aanvaar (1) Google se diensbepalings, en (2) hierdie bykomende diensbepalings van Google Maps/Google Earth (“Maps/Earth se bykomende bepalings”). Maps/Earth se bykomende bepalings inkorporeer by verwysing Regskennisgewings vir Google Maps/Google Earth en Google Maps/Google Earth API’s.

Lees asseblief elkeen van hierdie dokumente versigtig deur. Hierdie dokumente staan saam bekend as die “Bepalings”. Hulle bepaal wat jy van ons kan verwag wanneer jy ons dienste gebruik, en wat ons van jou verwag.

As jy die slegs-handelaar-kenmerke in Google Maps gebruik om jou Besigheidsprofiel te bestuur, dan is die Google Besigheidsprofiel-bepalings by https://support.google.com/business/answer/9292476 van toepassing op daardie gebruik.

Alhoewel dit nie deel van hierdie bepalings is nie, moedig ons jou aan om ons privaatheidsbeleid te lees om beter te verstaan hoe jy jou inligting kan opdateer, bestuur, uitvoer en uitvee.

  1. Lisensie. Solank jy hierdie Bepalings volg, gee Google se Diensbepalings jou 'n lisensie om Google Maps/Google Earth te gebruik, insluitend kenmerke wat dit vir jou moontlik maak om:

    1. kaarte te bekyk en te annoteer;

    2. KML-lêers en kaartlae te skep; en

    3. inhoud met behoorlike erkenning aanlyn, in video's en in gedrukte vorm publiek te vertoon.

    Lees die Gebruik Google Maps, Google Earth en Straataansig-toestemmingsbladsy vir meer besonderhede oor spesifieke dinge wat jy toegelaat word om met Google Maps/Google Earth te doen.

  2. Verbode Optrede. Jou voldoening aan afdeling 2 is 'n voorwaarde vir jou lisensie om Google Maps/Google Earth te gebruik. Wanneer jy Google Maps/Google Earth gebruik, mag jy nie (en mag jy nie persone wat namens jou optree, toelaat om dit te doen nie):

    1. enige deel van Google Maps/Google Earth herversprei of verkoop of 'n nuwe produk of diens skep wat op Google Maps/Google Earth gegrond is nie (tensy jy die Google Maps/Google Earth-API's ingevolge hul diensbepalings gebruik);

    2. die inhoud kopieer nie (tensy jy andersins deur die Gebruik Google Maps, Google Earth en Straataansig-toestemmingsbladsy of toepaslike wetgewing oor intellektuele eiendom, insluitend "billike gebruik", toegelaat word om dit te doen);

    3. die inhoud op grootskaal aflaai of grootmaatstrome daarvan skep nie (of toelaat dat enigiemand anders dit doen nie);

    4. Google Maps/Google Earth gebruik om enige ander kaartverwante datastel te skep of uit te brei (insluitende 'n kartering- of navigasiedatastel, besigheidslysinskrywingsdatabasis, poslys of telebemarkingslys) vir gebruik in 'n diens wat 'n plaasvervanger is van, of 'n wesenlik soortgelyke diens is as Google Maps/Google Earth nie; en

    5. enige deel van Google Maps/Google Earth saam met ander mense se produkte of dienste gebruik vir of in verband met intydse navigasie of selfstandige voertuigbeheer nie, behalwe deur 'n spesifieke kenmerk wat deur Google verskaf word, soos Android Auto.

  3. Werklike Toestande; Risikoaanvaarding. Wanneer jy Google Maps/Google Earth se kaartdata, verkeer, rigtingaanwysings en ander Inhoud gebruik, sal jy dalk vind dat werklike toestande van die kaartresultate en inhoud verskil; gebruik daarom jou onafhanklike oordeel en gebruik Google Maps/Google Earth op eie risiko. Jy is te alle tye vir jou eie optrede en die gevolge daarvan verantwoordelik.

  4. Jou inhoud op Google Maps/Google Earth. Inhoud wat jy deur Google Maps/Google Earth oplaai, indien, berg, stuur of ontvang, is onderworpe aan Google se Diensbepalings, insluitend die lisensie in die afdeling getiteld “Toestemming om jou inhoud te gebruik”. As jy 'n inwoner van Frankryk is, sal Google Search se bykomende diensbepalings van toepassing wees op sodanige inhoud wat publiek op Google Search beskikbaar gemaak word. Maar inhoud wat eksklusief plaaslik op jou toestel bly (soos 'n plaaslik gestoorde KML-lêer) word nie na Google opgelaai of ingedien nie, en is dus nie onderhewig aan daardie lisensie nie.

  5. Regeringgebruikers. As jy Google Maps/Google Earth namens 'n regeringentiteit gebruik, geld die volgende bepalings:

    1. Beherende Wetgewing.

      1. Vir stad- of deelstaatregeringentiteite in die Verenigde State of die Europese Unie sal die afeling in Google se Diensbepalings oor beherende wetgewing en plek nie geld nie.

      2. Vir federale regeringentiteite van die Verenigde State word die afdeling in Google se Diensbepalings oor beherende wetgewing en plek deur die volgende vervang:

        “Hierdie Bepalings sal beheer word deur en geïnterpreteer en toegepas word ingevolge die wette van die Verenigde State van Amerika sonder verwysing na strydigheid van regsbeginsels. Slegs in die mate wat dit deur federale wetgewing toegelaat word: (A) sal die wette van die deelstaat Kalifornië (met uitsluiting van Kalifornië se reëls oor die strydigheid van regsbeginsels) in die afwesigheid van toepaslike federale wetgewing van toepassing wees; en (B) sal enige dispuut wat voortspruit uit of verband hou met hierdie Bepalings of Google Maps/Google Earth uitsluitlik in die federale howe van die Santa Clara-distrik, Kalifornië, gelitigeer word, en die partye stem in tot persoonlike jurisdiksie in daardie howe.”

    2. Beperkte Regte vir die VSA-regering. Alle toegang tot of gebruik van Google Maps/Google Earth deur of vir die Verenigde State se federale regering is onderworpe aan die "Beperkte Regte vir die VSA-regering"-afdeling in Google Maps/Google Earth se Regskennisgewings.